Show your support for a cancer survivor

Uitbundig en Uitspattig in Kleur – KANSA Shavathon

English Press Release

KANSA is weereens die gasheer van die jaarlikse KANSA Shavathon-veldtog. Vanjaar vier KANSA op 25 Februarie (26 Februarie by uitgesoekte geleenthede) die 14de verjaarsdag van Shavathon by winkelsentrums regoor die land en by werksplekke van 27 Februarie tot 3 Maart. Klik op die skakel om te sien waar Shavathon aangebied gaan word.

Korporatiewe Shavathon

KANSA moedig werksplekke, korporatiewe instellings en diensorganisasies aan om betrokke te raak. Hierdie instansies kan registreer as ‘n Shavathon gasheer. Om gasheer van ‘n Shavathon te wees, is so maklik. Al wat die organiseerders moet doen, is om hulle kontakte uit te nooi om deel te neem, aanlyn te registreer en om Shavathon produkte te bestel by KANSA se eShop. Onthou asseblief dat die eShop op 17 Februarie sluit. Handleidings kan hier afgelaai word… Hierdie handleidings bevat inligting om jou te help om ‘n Shavathon suksesvol aan te bied. Alle Shavathon benodighede word afgelewer deur Globeflight.

Om ‘n Shavathon gasheer by werksplekke, studieplekke, gemeenskapsale of tuistes te wees of by te woon, bied jou die kans om deel te wees van ‘n prettige gebeurtenis terwyl jy mense bewus maak van ‘n ernstige siekte. Vir ‘n R50 donasie (R25 vir kinders onder 12) kan mense hul hare skeer of sproei. Hare in poniesterte wat 25cm of langer meet kan ook aan KANSA geskenk word. Hare wat geskenk word en wat voldoen aan al die nodige vereistes sal gebruik word om pruike te maak vir kankerpasiënte en sal gratis aan hulle verskaf word.

KANSA se Hoof van Volhoubaarheid, Maria Scholtz sê; “Shavathon bied aan jou die geleentheid om terug te gee deur fondse in te samel vir sorg- en ondersteuningprogramme van kankerpasiënte. Deur jou hare te laat skeer of sproei, of om jou hare vir pruike te skenk, bewys jy solidariteit met diegene wat die stryd teen kanker stry of met geliefdes en vriende van ‘n kankerpasiënt. Shavathon is ook ‘n tyd om hulle wat die geveg teen kanker verloor het te onthou en om hulde te bring aan hulle.”

KankerOorwinnaars

KankerOorwinnaars vind groot troos in die Shavathon-veldtog:

Shaun Terblanche, KANSA se Globale Held van Hoop (33), ‘n kankerOorwinnaar van breinkanker het heel waarskynlik die beste verklaring oor wat Shavathon vir hom beteken: “Weg met hare, weg met kanker.”

Nikki Seboni (26), ‘n kankerOorwinnaar van velkanker sê: “Ons het nie ‘n rede nodig om ander te help nie. Dit is ons onbaatsugtige dade wat ons verhef wanneer ons ander help. KANSA het my geleer wat Ubuntu is en die gawe van onbaatsugtige gedrag.”

Deel Jou Storie – Hoekom Shavathon?

Om stories en ervaringe te deel, is ook deel van die Shavathon ervaring. Mense wat hare voorheen geskenk het, deel hul ervaringe en stories:

Kirshua Ramsammy – “Ek het hierdie jaar my poniestert aan KANSA geskenk sodat ‘n pruik daarvan gemaak kan word. Meer as 30 cm van my hare is afgesny. Ek het my ma oortuig om dieselfde te doen en dit was nie ons eerste keer nie. Omdat dit vir my so ‘n ongelooflike ervaring was, sal ek dit weer en weer doen. Ek skenk graag my hare vir hierdie wonderlike inisiatief van KANSA.”

Isabella en Sofia Colatruglio – “My naam is Isabella en ek het laas jaar my hare geskenk. Ek was toe net 10 jaar oud. Vanjaar gaan my suster, Sofia, ook haar hare skenk en sy is net 9 jaar oud. Ek hoop ‘n kankerpasiënt voel pragtig met ons hare.”

Deel jou prettige foto’s met ons op Facebook, Twitter en Instagram en onthou om die hutsmerk te gebruik: #CANSAshavathon

Shavathon en SANBD

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) gaan weer vanjaar kragte by sekere Shavathon geleenthede saamsnoer. By hierdie geleenthede gaan die publiek aangemoedig word om bloed te skenk terwyl hulle ook aan Shavathon deelneem.

Bloed wat geskenk word, word dikwels vir kankerpasiënte se bloedoortappings gebruik. Dit is waarom ons deelnemers aan Shavathon aanmoedig om ook bloed te skenk. Jy help nie net ‘n kankerpasiënt met jou donasie van R50 (of R25 vir kinders) om KANSA in staat te stel om mense wat deur kanker geraak is, te ondersteun nie, maar nou kan jy tegelykertyd jou bloed skenk wat ‘n kankerpasiënt wat kankerbehandeling ontvang, kan help,” sê Scholtz.

Shavathon by Winkelsentrums

Die meeste winkelsentrums landwyd gaan gasheer wees en deelneem aan Shavathon op Saterdag 25 Februarie (en by sekere sentrums op 26 Feb). Scholtz voeg by: “KANSA is baie dank verskuldig aan die winkelsentrums wat deelneem. Omtrent al die winkelsentrums verskaf gratis spasie aan ons en help met verversings. KANSA sê baie, baie dankie.”

Die volledige lys van winkelsentrums wat deelneem is gelys op die webwerf… 

“KANSA Shavathon is ‘n prettige manier om jou ondersteuning in solidariteit te betoon aan mense wat op die oomblik teen kanker baklei. Dit maak ook mense bewus van die impak wat kanker het op almal wat daardeur geraak word. Shavathon sal niks wees sonder jou ondersteuning en sonder die hulp van al KANSA se toegewyde Vrywilligers nie. KANSA sê dankie vir almal van julle,” voeg Scholtz by.


Do you have a question?